Riglyne vir inspeksie

Riglyne vir Inspeksie (Klassifikasie) van diere:

Die Raad sal, ooreenkomstig Klousule 9(i) van die Grondwet, inspekteurs

aanstel om alle diere wat registreerbaar is, op aansoek van die betrokke teler, te

inspekteer of te klassifiseer.

1. ’n Inspekteur sal elke geregistreerde dier keur of klassifiseer nadat die bewys van

geboortekennisgewing en aansoek om registrasie aan hom voorgelê is.

Hy moet homself vergewis dat die identifikasie, kleur, ouderdom en ander gegewens wat op die geboortekennisgewingsertifikaat voorkom reg aangegee is en ooreenstem

met die dier wat vir inspeksie of klassifikasie aangebied word.

Verder moet hy tot eie bevrediging seker maak dat die dier in alle opsigte voldoen

aan die rasstandaard en aan minimum prestasievereistes soos van tyd tot tyd deur

die Raad bepaal. Enige verskil of teenstrydigheid kan so ‘n dier diskwalifiseer en

daartoe lei dat die dier gekanselleer word.

2. Dit is verpligtend dat ‘n teler tydens besoek van die inspekteur alle diere wat nog

nie gekeur is nie en aan die volgende minimum ouderdom vereistes voldoen

voor die inspekteur bring vir keuring, behalwe in die geval van ingevoerde diere

waar geen ouderdomsbeperking geld nie –

Bulle – Minimum ouderdom 12 maande, maar nie ouer as 24 maande nie.

Koeie – Minimum ouderdom 12 maande, maar nie ouer as 24 maande nie.

Die inspekteur het die mag om na eie oordeel enige dier oor te hou vir inspeksie

tot die volgende besoek.

3. ‘n Inspekteur mag in opdrag van die Raad van tyd tot tyd sonder vooraf waarskuwing

‘n algemene inspeksie van enige kudde doen.

4. Enige telers wat nie met ‘n inspekteur se beslissing tevrede is nie, mag binne

drie weke na die inspeksie of klassifikasie appèl aanteken by die Genootskap.

Sodanige appèl moet van ‘n deposito, soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal,

vergesel gaan. ‘n Appèlraad wat deur die Raad van die Genootskap aangewys

word sal dan die betrokke dier of diere inspekteer en indien die appèl slaag, sal

die deposito terugbetaal word. Indien nie, verbeur die appèllant sy deposito en is

verantwoordelik vir alle koste deur die Appèlraad aangegaan.

5. Die telers sal vroegtydig van die tyd en datum van ‘n inspekteur se voorgenome

besoek in kennis gestel word.

Spesiale inspeksies of klassifikasies kan slegs met toestemming van die Raad

plaasvind indien ‘n inspekteur beskikbaar is en die aansoeker toestem om die

gelde ten opsigte van spesiale inspeksies soos van tyd tot tyd deur die Raad

bepaal en die reis- en ander koste van die inspekteur te betaal.

6. Geen teler mag as inspekteur van sy eie diere optree nie.